Met ingang van 1 Maart 2026 is daar ’n wysiging in die minimumloon betaalbaar aan werknemers in Suid-Afrika en welke gewysigde bedrae werkgewers en werknemers moet ken en eerbiedig. Hierdie aanpassing is gemaak in terme van die National Minimum Wage Act, 2018 (Wet op Nasionale Minimumloon) en is gepubliseer in die Staatskoerant.
Nasionale Minimumloon
Die nasionale minimumloon met ingang vanaf Maart 2026 is R30,23 per uur vir elke gewone uur wat gewerk word. Dit is ’n verhoging vanaf die 2025-tarief van R28,79 per uur — ’n styging van ongeveer R1,44.
Uitgebreide Openbare Werksprogramme (EPWP) Werkers
Werkers wat onder die “Expanded Public Works”- Programme (EPWP) aangestel is, val onder ’n ander tarief weens ’n spesiale bedinging. Hierdie groep sal ’n minimumloon van R16,62 per uur ontvang.
Persone wat indiensopleiding ontvang (“Learnerships’)
Werkers wat in terme van leerder- of opleidingskontrakte werk, sal volgens die toepaslike skedule-tariewe betaal word wat in die Staatskoerant gepubliseer is.
Wie baat by hierdie verhogings?
Hierdie loonverhoging bevoordeel miljoene lae-betaalde werknemers, insluitend:
- Plaaswerkers;
- Huiswerkers;
- Werknemers in klein- en medium ondernemings; en
- Ander kwalifiserende werknemers wat voorheen op of net bo die minimumloon gesetel het.
Die aanpassing help om die koopkrag van die laagsbesoldigde werkers te beskerm teen stygende lewenskoste.
Verpligtinge van Werkgewers
Werkgewers moet toesien dat:
- Geen werknemer betaal word minder as R30,23 per uur vir gewone ure nie — behalwe waar ’n spesifieke uitsondering (soos EPWP) van toepassing is.
- Laer tariewe kan nie per kontrak, kollektiewe ooreenkoms of interne beleid geregverdig word nie — die minimumloon is ’n ononderhandelbare regsvereiste.
- Werkgewers moet hul betaalstrukture, lone en kontrakte voor 1 Maart 2026 hersien om te verseker dat dit voldoen aan die nuwe minimumloonvereistes.
- HR-spanne en salarisadministrateurs moet die verandering in hul sistematiese loonberekeninge en begrotings inbou.
Ekonomiese Perspektief
Terwyl Vakbonde die verhoogde loon as ’n voordeel beskou wat werkers se lewensomstandighede kan verbeter, is daar gemengde reaksies van Sake- en Landbouorganisasies.
AgriSA het in ’n onlangse aankondiging sy steun vir billike lone vir plaaswerkers herhaal en erken die belangrikheid daarvan om kwesbare werkers teen stygende lewenskoste te beskerm. Volgens AgriSA kom die aankondiging egter in ‘n tyd van onsekerheid vir die Suid-Afrikaanse landbou, met die sektor wat werklike en meetbare ekonomiese verliese ervaar as gevolg van die voortdurende bek-en-klouseer-uitbraak en voortslepende biosekuriteit uitdagings.
Die tydsberekening van die aanpassing sal bykomende las plaas op ‘n sektor wat reeds onder druk verkeer. Die landbousektor herstel van opeenvolgende jare van inkrimping wat veroorsaak is deur droogte, klimaatswisselvalligheid en dieresiekte-uitbrake.
Enige navrae oor hierdie aanpassing in minimumlone of ander verwante arbeidsreg kwessies kan verwys word na Stefan Fourie van LBF Prokureurs. Bel ons gerus by 028 424 1119 of stuur ’n epos na stefan@lbflaw.co.za.
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.